|
Terug
na indeks
Mense sê dikwels
vir ons: “Ek weet nie wat ek sou doen as ek my kind moes verloor nie! Hoe
hanteer julle dit?” Dan antwoord ek: “Dis soos om met ’n valskerm uit ’n
vliegtuig gestamp te word – dit maak nie saak wat jy doen nie; jy gaan grond
toe. Maar wat jy doen terwyl jy val, maak ’n groot verskil aan waar en hoe jy
land. As jy die toutjie trek om die valskerm te laat ontplooi, sal jy jou nie
te pletter val nie. En as jy die valskerm stuur, sal jy nie in die dam of in
die bosse land nie, maar eerder veilig in die oopte.”
Enige vorm van
trauma is geneig om ons emosies op loop te jaag en ons verstand te benewel.
Daarom help dit dalk om geleidelik vir jouself uit te maak presies waarin die
trauma van die situasie vir jou geleë is.
Waarin lê die trauma?
Toe Simon in
Februarie 2004 vir die eerste keer met leukemie gediagnoseer is, kon ons van
pure skok en vrees nie slaap nie. Jy weet van die siekte niks nie, en ook nie
van die behandeling nie. En jy het nog geen idee wat die kanse is dat jou kind
genees kan word nie.’n Gebrek aan kennis
is die eerste ding wat jou tot raserny dryf.
Dit hang saam
met die tweede saak wat ’n mens ontstel: jou belewenis van volslae magteloosheid. As ouer kyk jy toe hoe
dokters en verpleegpersoneel om jou kind skarrel, hoe hy met ’n drup en
dodelike medikasie aan ’n hospitaalbed vasgekluister word, en al wat jy as ouer
kan doen, is om kos en koeldrank te dra – wat hy dan nog opgooi ook. ’n Ouer se
eerste instink is altyd om sy kind te help en beskerm, en skielik kan jy dit
nie meer doen nie. Maar selfs meer ontstellend: jy kom gou agter dat die
geleerde dokters en bekwame verpleegsters ook nie altyd kan help nie, en dat
niemand jou kan waarborg dat jou kind sal gesond word nie. Jy leer regtig
verstaan wat dit beteken as ons sê “Die mens wik, maar God beskik.”
Dís wanneer beelde en terugflitse van gebeurtenisse
jou binne ’n oomblik ontstel. Ek het by die winkelsentrum gestaan en gesien hoe
’n pa vir sy huppelende seuns krieketskoene koop, en dadelik gewonder of ek dit
ooit weer sal kan doen. Jy onthou oomblikke, plekke, musiek, en dingetjies wat
jou kind gesê en gedoen het, en dit maak jou eindeloos hartseer. Jy sien hoe
jou ideale vir jou kind stukkie vir stukkie disintegreer, en dit maak bitter
seer.
Dan volg die
werklikheid van jou kind se fisiese
lyding, en die eerstehandse belewenis van sy geleidelike aftakeling. Dit
begin wanneer die mediese personeel naalde in sy are steek om bloed te trek, en
daarna volg naarheid, koors, opgooi en verswakking totdat jy hom die hele dag
net doodstil in die fetusposisie sien lê. Dit bring egter ook ’n ander soort
lyding mee namate sy wêreld kleiner raak, hy al minder kan doen, en sy maats
minder en minder word.
Ondertussen
begin die spanning en onsekerheid
aan jou knaag. Jou emosies ry die hele tyd wipplank tussen hoop en wanhoop, en
daar is geen manier om daaraan te ontkom nie. Dit maak nie saak waarheen jy
gaan nie, die spanning agtervolg jou soos jou skaduwee. Jy sien party pasiënte
gesond word, en ander sterf; jy sien pasiënte huis toe gaan en nuut
gediagnoseerde pasiënte arriveer. En jy moet leer dat wat links of regs van jou
gebeur net mooi niks sê van wat vir jou voorlê nie. Soos jy leer dat
statistieke oor die persentasie pasiënte wat genees word vir ’n spesifieke
pasiënt hoegenaamd niks beteken nie. Intussen kan jy nêrens heengaan sonder om jou
kind se medisynetas saam te vat nie. Jy kan hom nie by die huis of selfs by
vriende of familie los om self uit te gaan nie, want niemand anders weet hoe om
hom te versorg as iets fout gaan nie. Dus bly stokperdjies agterweë, en van
vermaak en ontspanning is daar nie sprake nie.
Ten spyte
hiervan ontwikkel daar ’n skuldgevoel,
want jy ervaar dat jy jou man of vrou en jou ander kinders begin afskeep. Jy
begin vrees dat jy dalk meer as een geliefde kan verloor, gewoon omdat julle
elkeen op julle eie julle verantwoordelikhede en emosies moet verwerk. Julle
raak gefrustreerd met mekaar en vlieg mekaar in die hare; julle kan mekaar maklik
begin verwyt. Jy ontwikkel ook ’n skuldgevoel teenoor jou werkgewer en
kollegas, of teenoor jou kliënte, want jy weet dat jy nie meer jou gewone
verpligtinge na die beste van jou vermoë kan nakom nie. Jy ervaar dat jy in elk
geval onproduktief is omdat jou gedagtes elders is. En soms spoel dit sommer
oor in ’n ander soort skuldgevoel omdat jy sonder rede begin wonder of die Here
jou straf vir hierdie of daardie sonde. ’n Mens wonder agterna of jy nie die
tyd wat julle nog saam gehad het, beter kon gespandeer het nie, en of jy nie
meer openlik met jou siek kind oor sy siekte en naderende dood moes gepraat het
nie. Jy wonder selfs of jou kind geweet het hoe lief jy vir hom is (absurd)!
Hiermee saam kom
allerlei ander geestelike wroegings: jy voel dat jy as pa faal omdat jy jou kind
nie kan beskerm nie; jy voel dat jy as ma faal omdat jy jou kind nie kan
versorg nie. Jy wil in opstand kom omdat hierdie wrede siekte jou weerlose kind
so onregverdig laat ly, maar jy weet nie teen wie nie. Jy sukkel om geduld te
hê met ouers wat hulle kinders verwaarloos of mishandel. Jy voel of jy teen die
plafon vasbid en jy weet nie meer of gebed help nie, jy weet nie of jy God nog
kan vertrou nie.
Waar die siekte
’n negatiewe wending maak, moet ’n mens uiteindelik die dood in die oë kyk. Ons was vir ’n lang ruk bang dat Simon mag
sterf, maar dan kry jy altyd weer hoop. By twee geleenthede het prof Mariana
Kruger vir ons en vir Simon verduidelik dat daar nie meer hoop is nie, maar
Simon het elke keer gekies om nog ’n laaste behandeling te probeer, en elke
keer het dit ons tog weer ’n strooihalmpie gegee waaraan ons desperaat
vasgeklou het. Maar vir die laaste drie weke van Simon se lewe het hy en ons
met sekerheid geweet dat die dood onafwendbaar is. Ons het vir Simon gesê dat
hy kan sê net wat hy graag wil doen of eet, en dit doen ons. Ons het uitgegaan
en hom (saam met ander mense) bederf sover ons kon, maar hy het net geleidelik
aanhou verswak sodat ’n mens naderhand nie veel meer kon doen as om bloot by
hom te sit nie. Hy wou nie eet nie, hy kon nie meer veel rondloop nie, hy het nie
eers energie gehad om veel te gesels nie. Agterna wonder ’n mens of jy die
meeste gemaak het van daardie laaste dae, maar jy kan ook net soveel doen in
een minuut, een uur, een dag – veral waar jou kind fisies so swak is.
Simon se sterfbed was uiteindelik ook
traumaties. ’n Mens probeer jouself daarop voorberei, maar jy kan nie regtig
nie. Soos Mariana Kruger later vir ons sê: “Die dood vang ons altyd uit.” Hoewel
Simon se lyding baie minder was as baie ander kankerlyers s’n, was dit
hartverskeurend om ons kind te sien sterf. In die krisissituasie tree ’n mens dikwels
impulsief en irrasioneel op, en na die tyd kan jy nie eers mooi onthou wat
wanneer gebeur het nie. Jy is instinktief geneig om jouself te verwyt dat jy
nie eerder dit of dat gedoen of gesê het nie, al was daar in werklikheid niks
wat regtig die laaste entjie pad vir jou kind makliker kon maak nie. Maar die
ervaring bly vreesaanjaend, en ons het later bewustelik besluit dat ons nie
gaan probeer om die gebeure presies te rekonstrueer nie. Hier is dit genade as
jy detail kan vergeet.
Ons is vooraf
gewaarsku dat die finaliteit van die dood
verskriklik is. En dit is –dit maak nie saak hoe lank jy jou daarop voorberei
het nie. Die feit van die saak is: jy kan nie weer in sy kamer ingaan en met jou
kind praat nie, jy sien net plat, lewelose foto’s en jy kan hom nie meer vashou
nie, jy kan nie meer sy eiesinnige gewoontetjies met ’n glimlag dophou nie.
Nooit weer nie. Vir ons as gesin was die finaliteit dalk selfs ’n erger skok as
vir ander mense, want in ons naby familie was Simon eintlik die eerste
sterfgeval. Maar dit het ons deeglik onder die indruk gebring van presies hoe
kosbaar elke geliefde is: ouer, eggenoot, kind …
En daarna is die
aanpassings in jou huis, in die
samestelling van jou gesin, en in jou daaglikse roetine ook traumaties. Skielik
verander die dinamiek van gesin (die rolle en verhoudings), skielik het ons net
2 kinders wat skool toe gaan, Laetitia kry alleen skaakles, daar is niemand wat
tussen Susan se musieklesse versorg hoef te word nie. Al die baie pille moet
weggegee of weggegooi word. Sy kaste moet leeggemaak word en sy besittinkies
verdeel en uitgedeel word. Mediese uitslae en foto’s moet geliasseer en gebêre
word. Elke klein dingetjie is ’n dolksteek wat jou herinner dat jou kind nie
meer daar is nie.
Ons gesin is
baie ander soorte trauma gespaar.
Ons kan regtig niemand verwyt dat Simon dood is nie; anders as die swart pa wat
in die hospitaal vir my gesê het (ten regte of ten onregte): “Nou het die
dokters kak gemaak!”. Verskillende dokters uit die VSA en Europa het in die
laaste maand van Simon se lewe op my navrae gereageer, en almal het bevestig
dat Simon die beste mediese behandeling gekry het wat daar op enige plek in die
wêreld beskikbaar is. Ons het ook nie interne spanning en konflik in ons gesin
gehad rondom Simon se siekte nie, nie huweliksmoeilikheid of opstandige kinders
of so iets nie. Ons het nie finansiële probleme ontwikkel nie, want ons mediese
fonds (Discovery) het ons ongelooflik simpatiek behandel. Ons het dus nie nodig
gehad om moeilike keuses oor finansiële prioriteite te bepaal nie, ons het nie
nodig gehad om eiendom te vervreem of sekere behandelings te staak as gevolg
van finansiële nood nie. Ons werkgewers, kollegas en kliënte was uiters
tegemoetkomend, en ons werk was nooit in die gedrang nie.
Ons is ook die
vrees oor Simon se ewige toekoms
gespaar. Simon is gedoop en hy was ’n eenvoudige gelowige, dit weet ons sonder
enige twyfel. Hy was lief vir die kerk, hy en Susan het in die laaste maande
dikwels saam oor die radio na eredienste geluister en daaroor gepraat. Ons het
by baie geleenthede vir hom uit die Bybel gelees en met hom daaroor gepraat, en
hy het op die oggend van sy dood nog self die woorde van Filippense 1:21
voltooi: “om te lewe is vir my Christus, en om te sterwe is vir my wins.” En
tog maak die onbekende en die onvoorstelbaarheid van die lewe na die dood ’n
aardse mens bang. Al wat ons bid, is: “Here, pas tog ons kind goed op, en gun
ons die voorreg om mekaar in u koninkryk weer te sien!”
En dan is daar
die verlange. Soos Laetitia sê:
“Eers kon ek nog vir myself sê ek het darem gister nog met hom gepraat, maar
dan word dit verlede week, twee weke terug, die vorige maand …” Ons mis hom op
soveel plekke en tye. Ons is vasgevang in ’n stryd dat ons soveel moontlik van
hom wil onthou, maar dat ons dit nie kan vat om te onthou nie omdat dit te seer
maak. En dan sukkel jy om perspektief te kry op herinneringe, want hoekom moet
jy soveel detail onthou van jou een kind, terwyl jy maar die besonderhede van die
gesonde kinders se kinderjare kan vergeet? Maar jy verlang vreeslik. Na jou
kind, en na die onbevange dae voordat hy siek geword het …
Groete Wouter van Wyk
|