Hierdie webwerf
vertel die verhaal van Simon van Wyk. Simon was ’n gewone seun wat in
Roodepoort grootgeword het met twee ouer broers (Wouter en Abrie) en ’n
tweelingsussie (Laetitia). Simon was lewenslustig en vrolik, en was gans en al
versot op krieket. Hy was briljant met syfers – hy
kon al voordat hy skool toe is enige twee dubbelsyfergetalle in sy kop optel of
aftrek. Hy het op skool uitstekend gepresteer en was ’n fantastiese skaakspeler
– hy het van onder 10 tot onder 14 elke jaar vir Gauteng Juniors se A-span
skaakgespeel, en drie keer onder die top 10 in die land geëindig. Hy het ’n bietjie gesing en kitaar en klavier geleer ook, maar die groot
passie in sy lewe was krieket. En toe wou hy so graag saam met die res van sy
familie begin fietsry, maar dit kon nooit heeltemal realiseer nie.
Simon se lewe
het ’n dramatiese wending gemaak twintig dae voor sy twaalfde verjaarsdag. Op
Vrydag 6 Februarie 2004 is Simon met Akute Limfoblastiese Leukemie (’n soort
bloedkanker) gediagnoseer. Hy is suksesvol behandel, en in September 2004 het
die beenmurgtoets gewys dat hy in remissie is. Met die eerste jaarlikse
beenmurgtoets op 26 September 2005 moes ons almal met ’n skok hoor dat die
kanker terug is, en toe het sy tweede intensiewe behandeling begin. Hy het
uiteindelik (in Junie 2006) ook ’n beenmurgoorplanting ondergaan, maar die
kanker het ’n weerstand teen die chemoterapie opgebou. Op Maandag 28 Augustus
2006 is hy op die ouderdom van 14 jaar in sy ouerhuis oorlede.
Hierdie webwerf
is ’n geskenk. Vir Simon se familie, maar ook vir al die ander families wat
dieselfde vrees en hartseer moet deurgaan. Ons hoop dat hierdie webwerf ook ’n
geskenk sal wees vir elkeen wat dit lees – ’n geskenk wat mense meer kan vertel
van leukemie en wat dit prakties vir die sieke en sy geliefdes inhou, en ’n
geskenk vir elkeen wat hieruit leer hoe om mense wat met hierdie wrede siekte
worstel, by te staan. Hou vas aan die hoop op herstel en lewe, en hou vas aan die hoop op die ewige
lewe!
Die verhaal van
Simon se siekte en sy familie se stryd word in die Dagboek vertel. Die blad
getitel Leukemie vertel ’n bietjie meer van die siekte, en hoe ’n
beenmurgoorplanting kan help. Skakels gee kontakinligting van organisasies wat
kan help, terwyl Foto’s en Kontak jou by Simon en sy familie uitbring.
Baie dankie aan Deon van der Westhuizen van WebWagon wat hierdie bladsy
steeds vir Simon se familie, en elkeen wat daarby kan baat, in stand hou. Druk
Ctrl + F5 (Windows Explorer) om te verseker dat u die
nuutste weergawe van die blad sien.

|

Die belangrikste
teksvers vir Simon: Fil. 1:21
Simon het aan die volgende woorde
vasgehou: “… om te lewe, is vir my Christus, en om te sterwe, is vir my
wins.”

|